TOEKENNINGS (Afrikaans)
SSSSA name
  TOEKENNINGS DEUR DIE GRONDKUNDEVERENIGING VAN SUID-AFRIKA

 

Hierdie toekennings word deur die Raad van die Grondkundevereniging van Suid-Afrika gemaak, op aanbeveling van sy Staande Toekenningskomitee waar so vereis word. Die Staande Toekenningskomitee, soos deur die Raad aangewys, bestaan ter wille van behoud van norme en eenvormigheid uit vyf lede, met secundi vir elk, waarvan die langsdienende lid aan die einde van elke jaar aftree en met 'n nuwe lid vervang word. Die langsdienende lid van hierdie komitee tree as voorsitter op.

Die volgende toekennings word gemaak:

1. Erelidmaatskap ('n silwer medalje word tydens 'n kongres oorhandig) volgens die grondwet, wat soos volg bepaal:

(i) Erelidmaatskap kan toegeken word aan 'n volle-lid aan wie die vereniging eer wil bewys op grond van lofwaardige dienste wat aan die vereniging gelewer is en vir verwesenliking van die vereniging se doelwitte, of op grond van uitstaande prestasies op wetenskaplike gebied.

(ii) Erelede moet deur 'n twee-derde meerderheid van stemme van die Raad gekies word, nadat by 'n vorige raadsvergadering kennis gegee is van die voorneme om sodanige persone as erelede voor te stel. 'n Gemotiveerde voorstel vir erelidmaatskap moet skriftelik op enige stadium by die sekretaris van die vereniging ingedien word. Dit moet onderteken wees deur 'n voorsteller en sekondant, wat beide volle lede van goeie naam moet wees. Die verkiesing van erelede sal egter slegs tydens 'n algemene vergadering aangekondig word.

(iii) Erelede is vrygestel van die betaling van ledegelde en kongres-registrasiegelde.

(iv) Erelidmaatskap is beperk tot 'n maksimum van 10 Erelede.


2. Silwer medalje vir studente wat buitengewoon presteer in grondkunde aan universiteite. Die volgende bepalings geld by die toekennings:

(i) 'n Medalje wat op aanvraag deur die vereniging voorsien word, kan jaarliks by elk van die universiteite toegeken word waar die vak grondkunde aangebied word.

(ii) Elke universiteit bepaal self die norme en prosedure waarvolgens beoordeling vir die toekenning moet geskied.

(iii) Bekendmaking van ontvanger en oorhandiging van toekenning is die verantwoordelikheid van elk van die onderskeie universiteite. Die Raad beveel egter aan dat dit sover moontlik as 'n bemarkingsgeleentheid vir die vak grondkunde gebruik moet word.

back to top of page

3. Silwer medalje vir voortreflike referate wat by 'n kongres van die vereniging gelewer is. Die volgende bepalings geld by die toekennings:

(i) 'n Medalje word tydens 'n kongres toegeken vir 'n referaat wat by daardie kongres gelewer is.

(ii) Toekennings kan telkens vir die volgende referate gemaak word:

  • Beste referaat voorgedra deur 'n navorser bo 30 jaar.
  • Beste referaat voorgedra deur 'n navorser onder 30 jaar.
  • Beste referaat aangebied oor nuwe implimenteerbare tegnologie.
  • Beste referaat aangebied in die vorm van 'n plakkaat.

(iii) Die prosedure vir beoordeling van referate is soos volg:

  • Die Toekenningskomitee beoordeel al die referate wat tydens 'n kongres gelewer word, met verdere oorlegpleging indien nodig, en maak aanbevelings aan die Raad.
  • Die finale beslissing oor 'n toekenning berus by die Raad.

(iv) Beide die wetenskaplike gehalte van die referaat en die gehalte van aanbieding moet deur die Toekenningskomitee in ag geneem word. Aspekte waaraan veral aandag geskenk moet word, is:

  • Oorspronklikheid: Raam die mate waartoe 'n referaat 'n nuwe benadering tot die onderwerp, 'n konstruktiewe formulering van 'n nuwe hipotese, vindingrykheid, vernuftigheid, verbeeldingrykheid en so meer weerspieël.

  • Impak: Evalueer die mate waartoe 'n referaat die werk van ander in daardie navorsingsveld en in grondkunde oor die algemeen sal beïnvloed, asook die invloed wat dit mag hê in terme van praktiese, bruikbare toepassing in die landbou, bosbou, omgewing ensovoorts.

  • Styl: Oordeel tot watter mate 'n referaat voldoen aan wetenskaplike korrektheid, logiese beredenering, toepaslike uiteensetting, goeie resultate, korrekte interpretasie en bondige bespreking.

  • Voordrag: Let op die vertroue, entoesiasme, duidelikheid, bondigheid en tydsberekening van aanbieding, kwaliteit van visuele materiaal wat gebruik is en die wyse waarop vrae beantwoord is.

  • Plakkaat: Kyk na die ordelikheid, netheid en aantreklikheid daarvan, die vermenging van teks met figure, tabelle, kaarte en fotos daarin, die hoeveelheid materiaal gebruik vir effektiewe uitbeelding asook die gemak waarmee inligting daarop ingeneem en begryp kan word.

(v) Meer as een toekenning kan in 'n kategorie gemaak word as die Toekennings- komitee so aanbeveel.

(vi) 'n Toekenning hoef nie gemaak te word indien die Toekenningskomitee van mening is dat geen van die referate van 'n hoë gehalte was nie.

(vii) Waar meer as een outeur betrokke is, ontvang slegs die outeur wat die referaat gelewer het 'n medalje.

(viii) Indien die outeur, of een van die outeurs, nie self die referaat lewer nie, kan 'n toekenning nie gemaak word nie.

back to top of page

4. Silwer medalje vir buitengewone diens aan die vereniging of die vakgebied in die breë. Die volgende bepalings geld by die toekenning:

(i) 'n Medalje word tydens 'n kongres oorhandig.

(ii) Die besondere dienslewering moes oor 'n tydperk van minstens 10 jaar gewees het.

(iii) Die toekenning word voor elke kongres oorweeg.

(iv) 'n Persoon kan die toekenning meer as een keer ontvang.

(v) Die prosedure vir nominasies en beoordeling sal soos volg wees:

  • Die Raad vra die lede van die vereniging vir gemotiveerde nominasies met twee sekondante en kan ook self nomineer.
  • Alle nominasies word deur die Raad na sy Toekenningskomitee verwys.
  • Die Toekenningskomitee beoordeel die nominasies, met verdere raadpleging indien nodig, en maak aanbevelings aan die Raad.
  • Die finale beslissing oor 'n toekenning berus by die Raad.

(vii) Indien, volgens die oordeel van die Raad, 'n kandidaat se diens nie buitengewoon was nie, word 'n toekenning in die betrokke jaar nie gemaak nie.


5. Goue medalje vir uitmuntende bydrae(s) op die terrein van grondkunde.

Hierdie is die hoogste erkenning deur die Vereniging en is werklik 'n prestige toekenning. Dit word gemaak vir bydraes van uitsonderlike wetenskaplike gehalte , pertinente tegnologie-ontwikkeling en/of bewese implementering en wat 'n besondere bydrae tot die vooruitgang van grondkunde maak. Die aard, omvang en impak van die genomineerde bydrae moet werklik uitstaande wees. Bydraes van 'n multi-dissiplinêre aard sal ook oorweeg word, maar dan moet die aanwending en voordele van grondkunde in bydrae pertinent wees. Die volgende bepalings geld by die toekenning:

(i) 'n Medalje word tydens 'n kongres oorhandig.

(ii) Bydraes van 'n resente aard en/of wat 'n impak oor die laaste drie jaar gehad het, word in ag geneem.

(iii) Die toekenning kan by elke kongres gemaak word mits 'n hoë standard gehandhaaf word.

(iv) Die toekenning kan aan meer as een persoon gesamentlik gemaak word. Waar 'n groter groep van wisselende samestelling betrokke is, ontvang die betrokke instansie waarvoor die groep werk 'n medalje, terwyl elke lid van die groep ook 'n medalje ontvang. Die raad sal bepaal wanneer so 'n situasie ontstaan het, en hoe om dit te hanteer.

(v) 'n Lid van die vereniging kan die toekenning meer as een keer ontvang, maar net in hoogs uitsonderlike gevalle by agtereenvolgende kongresse.

(vi) Die prosedure vir nominasies en beoordeling sal soos volg wees:

  • Die Raad vra die lede van die vereniging vir gemotiveerde nominasies met twee sekondante en kan ook self nomineer.

  • Die Raad beoordeel die nominasies, met verdere raadpleging van kundiges indien nodig. Die medalje word slegs toegeken indien 'n twee-derde meerderheid van stemme van die Raad daarvoor stem.

(vii) Indien, volgens die oordeel van die Raad, 'n kandidaat of 'n groep se genomineerde bydrae(s) nie van uitsonderlike gehalte was nie, word 'n toekenning by die betrokke kongres nie gemaak nie.

back to Profile page


Copyright © 2003 SSSSA